ken jou brein
ADHD
Tien gedagtes gelyk, nege take begin, en dan skielik: “Wag, ek moes eintlik eers daai ander ding gedoen het!”
Wat is ADHD?
ADHD staan vir Aandagtekort-Hiperaktiwiteitsversteuring. Dis ’n mondvol, en eerlik gesê klink dit na iets wat stukkend is. Ons sien dit anders: ADHD is ’n brein met ’n ander bedrading.
Die huis met ekstra drade
Dink aan die brein soos ’n huis se elektrisiteit. ’n Tipiese huis het tien toestelle, tien drade en tien skakelaars. Jy wil die kombuislig aanskakel? Jy druk die kombuis-skakelaar, en klaar.
’n ADHD-huis het meer drade en meer skakelaars, en die stroom voel vinniger. Daar is meer idees, meer verbindings en meer moontlikhede. Maar die skakelaars is nie so netjies gemerk nie. Jy wil die kombuislig aanskakel, en eers gaan die radio aan, toe die stoof, toe die buitelig… en op die vyfde probeerslag brand die kombuislig uiteindelik. Party dae brand ’n lig wat jy glad nie nodig het nie die hele dag, en dit weier om af te gaan.
Die drade is nie die probleem nie. Die bedrading werk, dikwels uitstekend. Die uitdaging lê by die skakelaars: om die regte ding op die regte tyd aan te kry, en die regte ding weer af. Daarom het ADHD niks met intelligensie te doen nie. Baie skerp mense sukkel elke dag met hul skakelaars.
Nie lui nie, nie stout nie
ADHD is nie ’n gebrek aan wilskrag, dissipline of goeie maniere nie. Dit is ’n neurologiese verskil in hoe die brein besluit wat aandag verdien.
Drie gesigte van ADHD
- Die beweger (hiperaktief en impulsief): wip, praat en doen, en verkieslik sommer nou.
- Die dromer (onoplettend): stil, ver weg, “in hul eie wêreld”, en word maklik oorgesien.
- Die mengsel: ’n bietjie van albei, en dit is die algemeenste.
Meisies en vroue
By meisies en vroue lyk ADHD dikwels stiller: dagdromery, ’n kop wat nooit stilbly nie, en ’n moeë perfeksionisme wat alles aan die gang hou. Van buite lyk alles reg. Van binne hardloop sy al jare teen die opdraande. Daarom word baie eers as volwassenes gediagnoseer, of glad nie.
Hoe ’n ADHD-brein werk
Om ’n skakelaar om te sit, het jy krag nodig. In die brein kom daardie krag grootliks van die beloningstelsel, waarin die boodskapperstof dopamien ’n groot rol speel.
In ’n tipiese brein gee selfs ’n vervelige taak genoeg krag: “Die vorm moet ingevul word, so ek vul dit in.” In die ADHD-brein werk die beloningstelsel anders. “Dit moet gedoen word” is eenvoudig nie genoeg krag om die skakelaar te laat omspring nie. Die skakelaar beweeg wel as die taak een van hierdie dinge het:
- Belangstelling: dis interessant.
- Nuutheid: dis nuut of anders.
- Uitdaging: dis moeilik, of niemand anders kan dit doen nie.
- Dringendheid: die sperdatum is môre oggend.
Dit verklaar die groot raaisel van elke ADHD-huis: hoe kan dieselfde kind drie uur lank Lego bou, maar nie vyf minute by die huiswerk sit nie? Dis nie ’n keuse nie. Die Lego gee krag, en die huiswerk nie.
En as die krag eers vloei, kan die skakelaar vassit. Dit is hiperfokus: ure gaan verby, en honger, dors en tyd registreer net nie.
Dis hoekom “probeer net harder” so selde werk. Jy kan nie harder druk op ’n skakelaar wat nie krag het nie. Wat wel werk, is om krag by te voeg: maak die taak interessant, nuut of ’n uitdaging, of skep ’n bietjie dringendheid.
Algemene kenmerke
Dit is die dinge wat die meeste mense met ADHD herken. Niemand het almal nie, en almal het party hiervan soms. Die verskil lê in hoe dikwels, hoe sterk, en hoeveel dit jou lewe raak.
Aandag
- Jou aandag gly weg van take wat nie interessant is nie, hoe hard jy ook al probeer. Jy lees dieselfde paragraaf vier keer.
- Maklik afgelei: ’n geluid, ’n beweging of ’n eie gedagte, en jy’s weg.
- Jy mis besonderhede: die laaste vraag op die vraestel, die tweede bladsy van die e-pos.
- Iemand praat met jou, en halfpad deur die sin is jou kop al elders.
Begin, beplan en klaarmaak
- Jy weet presies wat om te doen, maar kry nie begin nie. Die taak voel te groot, jy kan dit nie kleiner breek nie, en hoe langer jy wag, hoe groter word dit.
- Uitstel, veral van vervelige of ingewikkelde take, totdat die sperdatum die krag verskaf.
- Baie begin, min klaarmaak: die halfgeverfde kamer, die drie half-gelese boeke.
- Sukkel om take in ’n sinvolle volgorde te doen.
Onthou
- Jy vergeet alledaagse dinge: sleutels, afsprake, die kosblik op die kombuistafel.
- Uit sig is uit gedagte: as dit nie voor jou lê nie, bestaan dit eenvoudig nie.
- Jy verloor gereeld goed: die foon, die bril, die skool se toestemmingsbrief.
Beweging en impulse
- Rusteloos: wip, voettik, die pen klik-klik, of jy staan sommer op. By volwassenes is dit dikwels net ’n binnekant wat nie wil stilsit nie.
- Jy praat voor jy dink, of val iemand in die rede, want anders is die gedagte weg.
- Impulsiewe besluite: die ekstra aankoop, die nuwe stokperdjie, die “ja” voordat jy gedink het.
- Wag is moeilik: in rye, in gesprekke, vir jou beurt.
Minder bekende kenmerke
Hierdie kenmerke word selde genoem, en party staan glad nie in die amptelike lys nie. Maar vra enigiemand met ADHD daaroor, en hulle knik.
- Hiperfokus. Ure lank totaal verdiep in iets interessants, tot honger, dors en tyd net nie meer registreer nie. En as iemand jou onderbreek, voel dit of jy uit diep water opgeruk word.
- Emosies op volle volume. Emosies kom vinniger en groter, en gaan net so vinnig weer. ’n Klein frustrasie voel soos ’n storm, en tien minute later is die son weer uit. Vir jou, ten minste. Nie altyd vir die mense om jou nie.
- Afwysingsensitiwiteit (in Engels Rejection Sensitive Dysphoria, RSD). Intense pyn oor kritiek of afwysing, ook as dit net vermoed word. ’n Kort “ok.” in ’n WhatsApp kan jou hele middag bederf. RSD is ’n gewilde term en nie ’n amptelike diagnose nie, maar baie mense herken dit.
- Tydblindheid. Tyd voel nie. Daar is net “nou” en “nie nou nie”. Party is altyd laat, ander altyd ’n uur te vroeg omdat hulle hulself nie vertrou nie. Albei is dieselfde brein, net in teenoorgestelde rigtings.
- Afspraakverlamming. Die afspraak is om drie-uur. Jy moet om twee ry, dus moet jy teen twaalf gereed wees, eintlik teen elf om seker te maak… en skielik is die hele dag weg, omdat jy aan niks anders kon begin nie.
- Interne onrus. Van buite sit jy doodstil, maar binne loop die enjin heeltyd. Dit is veral algemeen by volwassenes en vroue.
- Hiperverbaalheid. ’n Stroom gedagtes wat voel of dit uitgepraat moet word voordat dit verlore gaan.
- ’n Kop wat nie afskakel nie. In die aand begin die gedagtes eers regtig hardloop. Baie bly laat wakker, want die aand is die enigste tyd wat voel of dit aan hulle behoort.
- Gevoelig vir prikkels. Geraas, deurmekaar ruimtes of krap etikette kan baie meer pla as by ander. Dit oorvleuel met outisme (sien AuDHD).
Wat ADHD goed doen
ADHD is nie net ’n lys sukkels nie. Dieselfde bedrading wat die skakelaars moeilik maak, gee ook dinge wat ander mense nie het nie. Baie mense met ADHD herken hulself hierin:
- Kalm in ’n krisis. As almal paniekerig raak, word die ADHD-brein dikwels helder. Dringendheid is brandstof.
- “Niemand kan dit doen nie, so ek sal.” Die onmoontlike uitdaging laat die skakelaars spring soos niks anders nie.
- Verbindings wat ander mis. Met soveel drade sien jy dikwels hoe dinge aan mekaar skakel wat vir ander los staan.
- Idees by die dosyn. Kreatief, vindingryk, en goed met oplossings van buite die boks.
- Hiperfokus. As die onderwerp reg is, lewer jy werk van buitengewone diepte en kwaliteit.
- Moed om te begin. Terwyl ander nog beplan, het jy al begin.
- Aansteeklike energie en entoesiasme. Jou opgewondenheid trek ander mee.
- Warmte, spontaneïteit en humor. Die mens wat jou dag onverwags beter maak.
- Veerkrag. Wie al jare teen die opdraande hardloop, weet hoe om weer op te staan.
Hoe dit die regte lewe raak
By die huis en in verhoudings
Vergete verjaarsdae, halfvoltooide projekte, die wasgoed wat drie dae in die masjien lê, of ’n huis vol “sisteme” wat nooit heeltemal werk nie. Dit is nie uit onverskilligheid nie, maar omdat die instandhouding van roetine-take soveel meer energie kos. Vriende wag lank op ’n antwoord op hul boodskap, nie omdat jy nie omgee nie, maar omdat “ek antwoord nou-nou” in die niet verdwyn. Geliefdes voel soms verontreg deur vergeetagtigheid wat nooit so bedoel was nie.
By die skool
Die juffrou sê: “Hy kán, as hy net wil.” Die waarheid is dat hy wil, maar nie altyd kan nie. Briljante antwoorde in die klas wissel af met vergete huiswerk en onvoltooide vraestelle. Punte wip op en af, en niemand verstaan hoekom nie, die kind self die minste.
By die werk
Briljante idees en probleemoplossing wissel af met gemiste sperdatums en onvoltooide take. Prestasie is onvoorspelbaar, briljant op een dag en oorweldig die volgende. Dit is verwarrend vir werkgewers wat konsekwentheid verwag.
Emosioneel en innerlik
’n Lewenslange patroon van “byna daar, maar nooit heeltemal nie” kan lei tot chroniese skaamte, selfkritiek en die gevoel van “ek probeer net nie hard genoeg nie”, selfs wanneer jy buitengewoon hard probeer het. Hierdie skaamte, oor jare opgebou, is een van die redes waarom depressie en angs so dikwels saam met ADHD voorkom.
’n Egte oomblik
Die vergete-taak-lus
Jy onthou die taak. Jy stel selfs ’n alarm. Die alarm gaan af, en jy dink “ek doen dit nou-nou”, en gaan voort met wat jy reeds doen. Drie uur later onthou jy weer, met dieselfde skok en frustrasie as die eerste keer. Dit is nie luiheid nie. Dit is ’n brein waar onthou en doen nie outomaties aan mekaar gekoppel is nie.
Verwante profiele
ADHD kom selde alleen. Jou ervaring pas dus selde netjies in net een boks.
- AuDHD: ADHD en outisme saam. Die een soek nuutheid, die ander roetine, en hulle masker mekaar dikwels.
- Outisme (ASD): baie van die sensoriese en sosiale ervarings oorvleuel.
- Disleksie: lees en spelling kos ekstra krag, bo-op die aandag.
- Angs en depressie: dikwels die prys van jare se sukkel sonder verduideliking. → Doen die depressie-sifting
Wat nou?
- Herken jy jouself of jou kind? Begin by Klink dit soos jy?, die selfrefleksie van drie minute.
- Wil jy ’n amptelike assessering kry? Begin by jou huisdokter. ADHD word gediagnoseer deur ’n psigiater, of by kinders dikwels ’n pediater, ná ’n assessering waarby ’n sielkundige ook kan help.
- Vir ouers: praat met die skool. Baie skole kan ondersteuning en akkommodasies reël, soos ekstra tyd of ’n stiller plek tydens toetse.
- Wil jy met iemand praat? SADAG se ADHD-hulplyn: 0800 55 44 33 (gratis, 08:00 tot 20:00).
- Voel jy al ’n ruk uitgeput of moedeloos? Doen die depressie-sifting. Dit kom baie saam met ADHD voor.
- Wil jy verstaan hoe ADHD by jou spesifieke brein inpas, saam met ander eienskappe wat jy dalk het? → Die NeuroKaart